Friday, December 23, 2022

Notre Dame herbesoek 2




Die Notre Dame Parys bly nou eenmaal 'n monument wat deurlopend aandag trek. Selfs, en veral, noudat die restorasieproses op dreef is en die voltooiing teen 2024 in vooruitsig gestel word. 

https://www.friendsofnotredamedeparis.org/reconstruction-progress/





Die beplanning, voorbereiding en toewyding aan die projek is merkwaardig - selfs in die Paryse winter!




Skematiese voorstellings van die aard en

vordering word rondom die Notre Dame

aan die versperring aangebring.  'n

Besoeker kan dus duidelik waarneem hoe

en waar die projek voltrek word.








'n Gedig word opgeroep, in gesprek met die twee wat in

Smee  (2021) voorkom:


Notre Dame, herbesoek 2 (2022)


Dis nou u derde winter in hoësorg,

nog 'n feessseisoen met verminkte lyf.

' n Oopgebrande karkas

waarbinne torakschirurge abseil,

soekend na ankerplekke

om 'n nuwe lewe oor te plant.

' n Ortopeed op elke vloer

gereed om swart splinters

met nuwe spalke te vervang,

op die perseel aanmekaargesit.

Plasties snykundig, die estetika

van maasdraad styf om u gelaat gedraai

om die beenbleek doodsheid te bedek.

En buite sig, by radiologie,

straal soekligte deur kratte materie,

word elke steen in artefak belig

om sy oerplek in te neem.


Kan u moontlik hierdie Kersfees

teen die steierwerk opbeur,

u purper kleed regskuif

en uit die toringrommel

net een ongeskonde ster

afkaats na die dwaalskare

wagtend op u plein?

    - Gerhard Barkhuizen, 2022



No comments:

laaste dae

Ons is terug in Suid-Afrika, winderige Strand en warm Worcester!  Ons besin vir oulaas oor die afgelope twee wonderlike wintermaande en peus...