Wednesday, January 4, 2023

Ikonies, Frankryk 2



Oujaarsaand in Parys.  Die treine loop gratis, MAAR alle metros en lyne is nie toeganklik nie.  Gevolglik beland ons wes van die Arc de Triomphe (in stede van 'n oostelike posisie aan die Champs-Elysées) op 'n stasie en 'n flink wandeling met 'n stroom pelgrims vind plaas sodat ons so na as moontlik aan die verwagte joligheid kan plaasneem.  Dit beteken sowat twee en 'n halfuur se wagtyd op die geantisipeerde vuurwerke wat 2023 sal inlui.  Ons kry 'n redelike gemaklike sit-/staanplek en is dankbaar dat ons ons kampeerstoeltjies saamgebring het!  Die wagtyd word verkort deur met ons bure, die Suid-Afrikaanse Bosmans en die bejaarde Portugese egpaar Batista gedagtes te ruil.  Die Afrikaanse gesprek vlot heerlik met die Melkbosgroep, maar geradbraakte Engels, Frans en Portugees sorg vir heelwat verduidelikende handgebare.  Carapinha Batista, 'n ingenieur, en sy vrou, 'n afgetrede onderwyseres, is verbasend goed ingelig oor Suid-Afrika en die stand van sake aldaar word flink met op- en afwaartse handbewegings gedemonstreer.




Die spasie word spoedig gevul en laatkommers druk styf in (COVID heeltemal vergete).  Dit noodsaak my en Karien om ons nekke en arms te rek in 'n poging om redelike selfoonfoto's te neem.  





Om middernag bars 'n ligte oorloggie oor ons oop: volskaalse lugaanval!  'n 10 minute lange weergalose vuurwerkvertoning vind plaas, gepaargaande met oorverdowende kanonskote.  Ewe jolig-hard is die Babelse uitruil van nuwejaarswense.  Iewers skemer (sic) dit deur dat, taal- en kultuurverskille ten spyt, die mensdom gesamentlik vreugde kan deel - en dit met slegs die sekonde-verskil tussen twee jaartalle as gemene deler.





Die terugtog na Cité internationale des arts is inderwaarheid 'n reis! Metros is steeds grootliks gesluit en sekere strate nou ook. Ompaaie en verdwaalpaaie volg en dit lyk of dit niemand skeel nie. Die aand se uitstappie beloop nagenoeg 11km! Ons is tuis om ongeveer 02:30, pootuit.

Die volgende dag rapporteer die media dat een miljoen mense die verrigtinge rondom die Arc de Triomphe bygewoon het, nadat ongeveer 500 000 verwag is!

https://www.youtube.com/watch?v=JuvW9y51Gq0

https://www.theguardian.com/world/2023/jan/01/1-million-people-gather-on-champs-elysees-in-paris-to-see-in-new-year


340 kg vuurwerkplofstof is vir die vertoning voorberei. Negentigduisend wetstoepassers was aan diens.

Dié viering en gepaardgaande skarebeheer is 'n goeie oefenlopie vir die Wêreldrugbytoernooi later die jaar asook veral die Olimpiese Spele van 2024.


1 comment:

Gerhard Barkhuizen Art said...

Hoor hoor! Vreugde is 'n geskenk wat verniet ontvang is en daar om gedeel te word met almal rondom ons ☺️ Mag 2023 ook gevul wees met vuurwerk-oomblikke en feesviëringe vir die Barkhuizens. Veilig toer die laaste paar weke in Frankryk. Baie groete, Louise Fischer

laaste dae

Ons is terug in Suid-Afrika, winderige Strand en warm Worcester!  Ons besin vir oulaas oor die afgelope twee wonderlike wintermaande en peus...